view of wheat 3

2017 Kongres

15 August 2017
0 comments
20507359 1366826583429885 1241884498896812486 O (1)

DIE 16de AGRI OOS-KAAP KONGRES (3 EN 4 AUGUSTUS 2017)

ROYAL ST ANDREWS HOTEL (PORT ALFRED)

TEMA VAN KONGRES: AANPASSING BY UITDAGINGS / ADATING TO CHALLENGES

Mr Doug Stern (President van Agri Oos-Kaap) het die 123 afgevaardigers baie welkom geheet by die jaarlikse kongres.

Mr Stern het in sy presidentsrede beklemtoon dat daar ‘n ramp, in afwesigheid van droogtehulp, besig is om te ontvou. Agri Oos-Kaap het na verskeie pogings, om amptenare bewus te maak, van hoe krities die droogtesituasie in die Sarah Baartman distrikmunisipaliteit is, met geen welslae geslaag om dit as rampdroogtegebied te verklaar nie. Verder het hy beklemtoon dat daar die korrupsie en bedrog in die regering se droogtehulpprogram met dringendheid oopgevlek moet word. Van die R1 miljard wat verlede jaar deur drie staatsdepartemente vir droogtehulp aan kommersiële boere toegewys is, het slegs 5% die boere bereik. Agri SA doen ‘n indiepte ondersoek ten opsigte van die besteding van die fonds. Mr Stern het nietemin ook ‘n optimistiese boodskap vir die boere gehad, en uitgewys dat landbouproduksie die afgelope twee dekades danksy beter tegnologie met 40% toegeneem het. Hy het uitgewys dat ons boere loshande die leiers in landbou in Afrika is en van die beste ter wereld is. Die Suid Afrikaanse boer moet massiewe uitdagings te bowe kom soos plaasgeweld, veediefstalle en grondbesettings. 2016 was een van die droogste jare deur die hele land, (die afgelope 100 jaar) en kyk net hoe goed ons boere oorleef het onder die moeilikste omstandighede.

GASSPREKERS:
Die bekende joernalis, TV-aanbieder en Radio omroeper Mnr FREEK ROBINSON het boere herinner dat hulle nie slegs die voorgangers is wat die ekonomie bou nie, maar ook meer belangrik, die voorgangers moet wees om rasse-verhoudings te verbeter. Hy het beklemtoon dat boere bitter belangrik is, nie net by die produsering van kos nie, maar ook in die poging om ons as Suid Afrikaners nader aan mekaar te bring, om op menslike vlak ’n verskil te maak en op menslike vlak mekaar te vind. Sodat ons ‘n beter toekoms het. Ons kan nie heeltyd met mekaar baklei nie. Dit is die boer se plig om die naam van die boere te suiwer teen die negatiewe aspek en te verander na ‘n positiewe een.
ABSA se senior ekonoom Mr WESSEL LEMMER het uitgewys dat landbou, ten spyte van ‘n resessie, nogsteeds ‘n goeie belegging is. Die groei van 22% in die bruto binnelandse produk van die landbou vanaf die laaste kwartaal in 2016 tot die eerste kwartaal vanjaar is bewyse van ’n goeie belegging. Hy het kongresgangers aangeraai om nuwe beleggingsgeleenthede te ondersoek en nie ‘n goeie geleentheid mis te loop nie. Vasbyt vir die volgende twee jaar was sy boodskap. ABSA was ook die hoofborg van ons damesprogram wat deur Mev. Liz Stern (Presidentsvrou) gereël is .

Dr PETER JOHNSTON ‘n klimaatwetenskaplike en navorser vir die Afrika-klimaat se Ontwikkelings Inisiatief het uitgewys dat die klimaat se skuiwe getroef kan word. Ondanks onbetwisbare bewyse dat klimaatsverandering ‘n werklikheid is kan boere, met behulp van die hendendaagse tegnologie, die ongunstige gevolge daarvan verminder. Die toepassing van minimum- of geenbewerkingspraktyke, presisieboerdery, die beter benutting van water en die aanplant van gewasse wat meer droogte bestand is, is enkele maniere om steeds te sorg dat daar genoeg kos op die tafel gesit kan word.

Ds DANIëL DE KOCK was die regte motiveringsspreker om kongresgangers se gemoedere op te beur. Hy het met ‘n humoristiese en reguit aanslag daarop aangedring dat mense nie negatiewe dinge oor hulself uitspreek nie. Hou op om dinge te doen om ander mense te beïndruk – jy maak jouself moeg.

Van Agri SA was JOHANNES MöLLER (PRESIDENT), OMRI VAN ZYL (UITVOERENDE DIREKTEUR) en ERNEST PRINGLE (Voorsitter van die Landbou Ontwikkelingskomitee) ook teenwoordig.

Mr Pringle het die realiteite van grondhervorming bespreek en vrese vir grondbesetting beklemtoon. Data toon dat meer grond deur die vryemark (privaat) verkoop word as deur die regering se meganismes. Sy afleiding is dat “The willing Buyer- Willing Seller” beginsel werk vir grondhervorming. Daar is ook ‘n kongresbesluit geneem om Agri SA finansieël te ondersteun in sy regsfonds nl. “War Chest”. Hierdie fonds sal gebruik word om die lede se belange en eiendom in die hof te verdedig.

BESKRYWINGSPUNTE:
Beskrywingspunt 1: (Klaassmits LV) 

Kongres versoek die dringende wysiging van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande om die toepassing daarvan, in die praktyk, haalbaar te maak.

Beskrywingspunt 2: (Jansenville LV) 

Kongres bespreek die daarstel van ‘n werkbare protocol vir mynbou-aansoeke op landbougrond op plaaslike, provinsiale en nasionale vlakke.

Beskrywingspunt 3: (Visrivier LV) 

Kongres bespreek ‘n professionele organisatoriese struktuur vir ‘n gemoderniseerde Agri Oos-Kaap.

INFORMELE FUNKSIE:
Tydens die funksie is die provinsiale wenner van die gewilde Toyota Jongboer van die Jaar Kompetisie deur Mnr. Ricky Pillay Bestuurder van Verkope en Sake by Toyota Suid Afrika, aangekondig. Vanjaar staan die eer die jong Stefan Erasmus, ‘n 33-jarige veeprodusent, te beurt. Hy boer op die plaas Beskuitfontein tussen Middelburg en Noupoort.

BEDANKINGS:
Al die reëlings van weereens ‘n baie suksesvolle Kongres, val die lof van ons kantoorpersoneel toe. Maande se beplanning en reëlings het voorwaar vrugte afgewerk. Sonder hulle vyf was dit nie moontlik nie.

Die Bestuur en Personeel van die Royal St Andrews Hotel. Hulle diens en grasvryheid was van hoogste gehalte.
Die President, Adjunk-President en Algemene Raadslede van Agri Oos-Kaap, julle bydraes, insette en tyd vir georganiseerde landbou word hoogs waardeer. Julle onbaatsugtige onderhandelings, opofferings en energie vir landbou, sodat julle mede-boere die vrugte daarvan kan pluk, spreek boekdele.

Laastens wil ons net al die afgevaardigers bedank vir julle teenwoordigheid en deelname by Kongres. Kongres is julle mondstuk tot georganiseerde landbou. Gebruik die geleentheid.

Vir meer inligting en foto’s van kongres, besoek asseblief ons webtuiste (www.agriec.co.za) en ons Facebook blad (Agri Eastern Cape).
Dankie vir geleentheid.
Groete

Alfonso van Niekerk
Management Committee (Streek 2)
Kommunikasie en Beeldbou